"Friends Don't Let Friends Drink Then Drive"

Winner of a Prince Michael International Road Safety Award 2012

SA pad vol botsings - Beeld 22 Jan 2013


Een miljoen sterftes.

50 miljoen beseerdes.

R876,26  miljard, net in ontwikkelende lande.

Dít kos padbotsings die wêreld per jaar.

Daarom het die Verenigde Nasies (VN) 2011-’20 tot die Dekade van Aksie vir Padveiligheid verklaar. Teen die einde van die dekade moet die wêreld se verwagte padsterftes met die helfte verminder.

Maar byna twee jaar en twee nasionale konferensies later het Suid-Afrika steeds geen oorkoepelende strategie om die VN se doelwit te bereik nie.

Ashref Ismail, woordvoerder van die Padverkeerbestuurskorporasie (RTMC), sê “interne prosesse word tans gevolg en ’n aankondiging oor die ontplooiing van die Nasionale Padveiligheid-strategie sal binnekort gedoen word”.

Dít terwyl dringendheid vereis word in lae- en middelinkomstelande, soos Suid-Afrika, waar 90% van die wêreld se padsterftes plaasvind. So lees ’n mens in ’n verslag van die VN se kommissie vir wêreldwye padveiligheid: “Make roads safe: Time for ac­tion.”

Byna die helfte van wêreldwye padsterftes vind in tien lae- en middel­inkomstelande plaas: Egipte, Kenia, Brasilië, Mexiko, Rusland, China, Indië, Turkye, Viëtnam en Kambodja. (Sien grafika.)

Bloomberg Philanthropies en die VSA se Johns Hopkins-universiteit help die regerings in hierdie lande om padveiligheid te verbeter. Die projek word “RS-10” genoem.

Die RS-10-lys is egter misleidend. Hoewel Suid-Afrika se jaarlikse padsterftesyfer van 16 113 min lyk teen Indië (196 445) en China (220 783) s’n, skrum ons in die eerste liga wat per capita-sterftes betref.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se mees onlangse statistieke – 2007 s’n – vind die meeste padsterftes per 100 000 mense in Egipte plaas (41,6) en die minste in Nederland (4,8).

Vergelyk nou ’n paar ander:
Kenia: 34,4
China: 16,5
Brasilië: 18,3
Turkye: 13,4
Suid-Afrika: 33,2.

2/10 vir toepassing

Waar lê die probleem?

Kyk ’n mens deur die VN se lys aanbevelings kan ’n mens vir Suid-Afrika by omtrent elkeen ’n regmerkie gee.

Perk op bloedalkoholvlak ingevolge internasionale standaarde? In werking gestel.

Dra van veiligheidsgordels verpligtend vir almal in die voertuig? In werking gestel.

Valhelms vir motorfietsryers vereis? In werking gestel.

Suid-Afrika behoort wel die stedelike snelheidsperk tot 50 km/h te verlaag, ingevolge VN-aanbevelings.

“Die Suid-Afrikaanse verkeerswette is baie goed,” sê Caro Smit, direkteur van die nie-winsgewende organisasie South Africans Against Drunk Driving (SADD). “Ons kry daarvoor 5 uit 5 by die WGO. Maar Suid-Afrika kry net 2 uit 10 vir die toepassing daarvan.”

Gary Ronald, woordvoerder van die Automobiel-Assosiasie, meen daar “is detail in die Padverkeerswet waaraan geskaaf kan word, maar niks waarsonder ons oor die weg kan kom nie”.

“Die grootste kwessie is dat Suid-Afrikaners oor die algemeen nie graag reëls volg nie en verkeerswette is deel daarvan. Om gedrag te verander moet mense besef daar is ’n gevolg as hulle die wet oortree.

“Die regering doen nie níks nie. Maar wat kortkom is ’n behoorlike beleidsraamwerk vir padveiligheid wat die hele gemeenskap insluit en waarin ordentlik belê word,” sê Ronald.

Hierdie gegewens is welbekend. Die maatreëls wat gevolg kan word om padveiligheid te bevorder, is ook nie ’n geheim nie.

“Ons weet wat die probleme is; ons weet wat die potensiële oplossings is,” sê Ronald.

“Wanneer jy mense by die departement van verkeer vra – hoekom het julle dít nie gedoen nie? of hoekom het julle nie dááraan gedink nie? – dan is die kort antwoord dikwels ‘ons het nie die vermoë nie’. Of ‘ons het nie die ervaring nie’ of ‘ons het nie die geld nie’. Of al drie.”

Ronald meen as R300 miljoen toegewys word om ’n padveiligheidstrategie van stapel te stuur, sal Suid-Afrika se padsterftes “beduidend” afneem.

Want padbotsings is geen “ongeluk” en dus onvermydelik nie, sê Smit. “Dis nie ’n ongeluk wanneer jy drink en bestuur nie. En dis nie ’n ongeluk of wanneer spoed die botsing veroorsaak het nie. Dis hoekom ons verkies om van ‘botsings’ te praat en nie van ‘ongelukke’ nie.”

Internasionaal word na “drinkbestuur” eerder as “dronkbestuur” verwys. “Selfs een sopie alkohol beïnvloed jou bestuursvermoë,” sê Smit.

Mimiek-taktiek

Buiten die beproefde en bekende metodes het verskeie lande innoverende maniere om padgedrag te verander.

In die stad Garden Grove in Kalifornië het verkeersbeamptes elke moontlike manier getoets om mense stadiger in skoolsones te laat ry. Hulle het kaartjies uitgeskryf en groot nuwe spoedborde opgerig, sonder veel sukses.

Toe probeer hulle iets nuuts: dinamiese spoedbordjies. Dit het die 40 km/h-spoedperk vertoon met die bestuurder se spoed in groot letters daaronder wat met ’n radar-sensor gemeet is.

“Die bordjies was merkwaardig op ’n paar maniere,” skryf Thomas Goetz in die tydskrif Wired. “Om maar een ding te noem het dit bestuurders niks vertel wat hulle nie reeds geweet het nie – daar is mos ’n spoedmeter in
elke motor.

“En daar was nie ’n straf nie – geen verkeerspolisielid het by die bordjie gestaan om jou ’n boete te gee nie. Dit het dekades van wetstoepassing-dogma uitgedaag.”

Tog was die resultate ’n aangename verrassing, want bestuurders het gemiddeld 14% stadiger gery. Deesdae word dit oor die hele VSA heen gebruik en bly dit doeltreffend.

’n Ander manier waarop openbare verleentheid ingespan word, is die gebruik van mimiekkunstenaars in Venezuela, Brasilië en Colombia se strate. Hulle spot mense met oordrewe hand- en lyfbewegings wanneer hulle die padreëls oortree.

“Amptenare hoop die gebruik van ’n sigbare, minder dreigende taktiek sal padgebruikers help om slegte gewoontes op ’n gemoedelike manier af te leer,” skryf Tim Newcomb in die tydskrif Time.

Die joernalis Ilse Salzwedel het ­Georgië in 2011 besoek en vertel dié voormalige Oosblok-land het ’n uiters streng beleid teen bontlopery (jay- walking). Die hoofweg in Tbilisi, die hoofstad, is basies ’n snelweg, maar inwoners gebruik getrou die duikweë, sê Salzwedel.

“Die plaaslike polisiehoof het aan ons verduidelik dat hulle bontlopers wat dit wel waag, stewig beboet en na die polisiekantoor neem,” sê sy.

“Daar moet jy vir drie uur lank kyk na videomateriaal van voetgangers wat deur motors getref word. Dis blykbaar baie doeltreffend, want mense oortree nie sommer weer nie.”

Op haar beurt vertel Smit dat die owerhede in Nieu-Seeland onmiddellik optree wanneer iemand daar in ’n botsing gesterf het.

“Hulle rig dan ’n staalversperring op die middellyn van die betrokke stuk pad op sodat mense mekaar nie daar kan verbysteek nie,” sê sy.

SADD sal graag wil sien dat die toepassing van ’n blaaspypie-immobiliseerder, wat met groot sukses in ander lande aangewend word, ook in Suid-Afrika gebruik word.

Die immobiliseerder vereis dat die bestuurder (skoon) moet blaas voordat die voertuig aanskakel. Smit sê dit behoort verpligtend te wees vir die bestuurders van openbare vervoermiddels en vragmotors, asook mense wat gevang is nadat hulle gedrink en bestuur het.

Die voorbeelde van maatreëls wat wérk, is amper eindeloos. Maar sonder politieke wil – en groter wetsgehoorsaamheid – is daar nie sommer ’n veiliger weg nie.